Sunday, October 26, 2008

Java Take, Projekte en Huiswerk

Dankie vir al die eposse oor take, huiswerk en projekte. Ek wil julle ALMAL baie graag help, maar daar is net nie genoeg tyd in elke dag nie. Tans hou ek 'n databasis van versoeke aan (in H2 Database, dis fantasties!) en sodra daar genoeg navraag is na 'n onderwerp, skryf ek 'n kort artikeltjie vir JavaK.

Ek kan egter nie help met jou taak of projek nie. Die webwerwe word gratis aangebied en ek ontvang geen direkte vergoeding vir die ure wat hier ingesit word nie. Daarom maak dit net nie sin om individueel te help met take of projekte nie.

As jy nie die antwoord op een van my webwerwe kry nie, stuur 'n epos en ek sal probeer antwoord. As ek nie vinnig genoeg reageer nie, is die kans goed dat jy nie die enigste een is wat 'n vragie aangestuur het nie!

Op en aan die gang

Die nuwe Java webwerf is aan die gang! Die eerste les fokus op die gebruik van die NetBeans omgewing om vinnig 'n klein programmetjie te skryf en dien as 'n inleiding tot Java programmering. Volgende week word les twee gelaai wat fokus op lusse (loops) in Java.

Die eerste paar lesse in die reeks help gebruikers om hulle voete te vind met Java. Die plan is om stadig in Java in te beweeg en te vorder tot by databasis-applikasies en natuurlik grafiese koppelvlakke. Kom loer gerus hier in vir nuus!

Die gratis Java lesse is beskikbaar vir almal en alles wat jy nodig het is gratis beskikbaar op die internet. Daar is verskeie fantastiese Java kursusse beskikbaar op die Net, maar bitter min Afrikaanse inligting. Ons poging sal hopelik die leemte 'n bietjie aanspreek.

Friday, October 24, 2008

Nuwe webwerf

Daar is 'n nuwe webwerf by NoFuss Solutions vir diegene wat dalk nie Java op skool het nie. Dis meer gemik op die van julle wat Java doen vir 'n stokperdjie eerder as 'n skool vak. Die klem val dus meer op die algemene gebruike van Java en aanvaar dat mense nie noodwendig Java agtergrond het nie.

Die idee agter die nuwe webwerf is om meer Afrikaanse gebruikers 'n kans te gee om die Java-taal te ontdek en te verken. Baie mense het ons gekontak en gevra dat ons tog een of twee Afrikaanse inleidings tot Java moet publiseer. Deur die volgende paar weke gaan ons dus die artikels daar uitbrei om julle ook tegemoet te kom.

Friday, October 10, 2008

Afrikaans bo!

Sjoe! Dis lekker om vir 'n slag ietsie in Afrikaans te tik. Ek is tans besig met 'n Afrikaanse handleiding vir Java studente en ander nuuskieriges. Indien jy sou belangstel in so iets,laat my weet WAT jy soek in so 'n handleiding.

Die idee is natuurlik om dit gratis weg te gee op die internet, maar ek wil darem net seker maak dis nuttig en nie vol gemors nie. As jy weet van enige, goeie Afrikaanse handleidings sal ek graag wil weet van hulle, my navorsing het net mooi niks opgelewer wat nie direk uit Engels vertaal is nie. Die meeste Afrikaanse handleidings wat ek kon opspoor is vreeslik oud of baie swak of natuurlik 'n kombinasie van die twee.

Stuur 'n epos as jy op die lysie wil kom van proeflesers (ek soek nog so 'n paar) en sal kan help met voorstelle en foute uitwys.

Afrikaans rock!